Geagte Lede en Belangstellendes.
Graag deel ons die volgende nuus en inligting met u.
Henk Celliers het in die afgelope dae ’n stemboodskap die ruimte ingestuur. Met verwysing na ’n mening wat KSK by Prokureur Adriaan Venter verkry het op 9 Desember 2010. Henk Cilliers het onder andere die volgende gesê:
….Adriaan Venter Senior sê die bank mag nie geld uitgee op onwettige eiendom nie, ongesekureerde eiendom nie. Nieteenstaande dit het hulle steeds aangegaan terwyl die ondervoorsitter Ruan Genis op die direksie dien. Hy is baie bewus van hierdie brief dat hulle nie mag handel dryf nie. Hulle het steeds aangegaan….
Dit wat hy gesê het, is van alle waarheid ontbloot en kwaadwillig.
Hy het onder andere gemeld dat hy, Johan Venter en Sakkie Booysen ’n onderhoud met Rapport se verslaggewer gehad het. Dit word verwag dat die berig binnekort in een of meer koerante kan verskyn.
In afwagting van ’n moontlike negatiewe berig(te) oor KSK, verskaf ons graag die volgende agtergrond.
KSK het Prokureur Venter se mening aangevra na aanleiding van sekere applikante se Hoë Hof Aansoek teen die destydse Kleinfontein Boerebelange Koöperatief Beperk (“KBK”) in 2010. Hierdie was dus vir ‘n spesifieke doel bekom. Met die uitspraak wat gunstig was vir Kleinfontein, het die doel van die dokument verval.
In die mening het Prokureur Venter onder andere bevind dat KSK se sekuriteit op daardie tydstip wel risiko’s ingehou het, omrede Kleinfontein nie geformaliseer was nie. Hy het onder andere ook die volgende gemeld:
KSK se finansiële belang spruit daaruit voort dat u by wyse van ‘n Samewerkingsooreenkoms wat met die KBK gesluit is, interne finansiering verleen aan belangstellende “kopers” en bestaande inwoners van die Kleinfontein nedersetting ten einde ‘n residensiële belang in die Kleinfontein nedersetting te bekom en waar moontlik, verbeterings in die vorm van woonhuise en aanverwante strukture op die sodanige eiendomme op te rig.
Die voormelde word bewerkstellig deurdat ‘n voornemende koper en inwoner ‘n aandeel in die Koöperasie (KBK) bekom teen ‘n nominale waarde per aandeel, aan welke aandeel ‘n uitgemete grondgebied gekoppel is en waarkragtens sodanige voornemende inwoner dan ‘n benuttingsreg bekom in die vorm van bewoning en die oprigting van verbeterings.
KSK verleen dan, in terme van die bepalings van die Samewerkingsooreenkoms wat met die KBK gesluit is, finansiering aan sodanige voornemende koper, nie net om sy aandele in die Koöperasie te bekom nie maar ook om sekere verbeteringe op die geallokeerde grond op te rig.
In ruil vir sodanige finansiële bystand, verpand die voornemende koper en inwoner dan sy totale titel reg en belang in die verkreë aandele aan KSK tesame met sy reg titel en belang in alle verbeterings wat op die geallokeerde grond, hetsy gedeeltelik hetsy geheel, by wyse van sodanige finansiering opgerig is.
Hierdie sessie bly in plek totdat die inwoner / lid sy totale finansiële verpligting teenoor die KSK nagekom het.
In die konteks van die voormelde het KSK uiteraard ‘n direkte belang in die “eiendom”, aandele en verbeterings asook die waarde daarvan wat as sekuriteit vir sodanige finansiële bystand gedien het. Uiteraard sal enige wysiging van hierdie finansiering struktuur die aard van u KSK se sekuriteit aantas of verander en u op risiko plaas indien die aangeleentheid nie juridies korrek bestuur word nie.
KSK het nie die finansiering struktuur verander nie.
Wat het verander sedert Prokureur Venter se verslag gelewer was:
KSK was ten gunste daarvan en het KBK ondersteun om, om te skakel na ’n Aandeleblok Maatskappy. Die omskakeling is ook deur die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom goedgekeur. Kleinfontein Aandeleblok (Eiendoms) Beperk is geregistreer op 16 Maart 2018. Hierdie omskakeling was op geen stadium aangeveg of formeel betwis nie. Aandele in ’n Aandeleblok Maatskappy word algemeen in die Suid-Afrikaanse reg erken as bates wat kan toeneem in waarde en wat by verhandeling daarvan in gepaste gevalle selfs kan lei tot die betaalbaarheid van kapitaalwins belasting. Sulke aandele bied dus beter sekuriteit vir lenings as aandele in ’n Koöperasie.
Baie jare na Prokureur Venter se verslag was KSK verplig om twee leners se lenings te oorhandig vir regsoptrede weens wanbetaling. In albei gevalle was die leners gedagvaar en vonnisse is verkry met suksesvolle beslagleggings op die aandele daarna. In een van die gevalle was die wettigheid en geldigheid van die lenings en die sekuriteit asook KSK se besigheidsmodel in geskil geplaas. In hierdie saak het die Hoë Hof teen hierdie verwere bevind en vanweë kwaadwilligheid van die litigasie ‘n bestraffende kostebevel teen die lener se prokureur gemaak.
Lede kan gerus wees dat die opneem van aandele as sekuriteit in gevalle waar lenings verskaf word, wel as behoorlike en selfs voldoende sekuriteit beskou kan word.
KSK se finansiële posisie is baie gesond. Die Eksterne Ouditeure se verslag op 29 Februarie 2024 was sonder enige kwalifikasies uitgereik en goedgekeur. Soos dit ook was elke jaar van KSK se 20 jaar van bestaan.
Met verwysing na die onlangse uitspraak in die saak waar KIV lede (Applikante) en KA (Respondente) betrokke was. Dit is belangrik dat u daarvan kennis neem dat die applikante aansoek gebring het om verlof om teen die hofuitspraak asook sekere van die bevele te appelleer. Derhalwe kan die uitspraak en bevele moontlik deur ’n ander Hof gewysig word.
KSK is positief dat KA se goeie verhouding en onderhandelings met Stad Tswane Metropolitaanse Munisipaliteit eersdaags ’n oplossing vir Kleinfontein sal bied.
Groete.
Tinus Myburgh
Besturende Direkteur